AO3 News

Post Header

Published:
2022-06-05 00:24:48 UTC
Original:
Comment blocking is coming
Tags:

Ons is opgewonde om aan te kondig dat ons in die komende dae die eerste deel van ons blok- en dempfunksies sal bekendstel: die vermoë om spesifieke aangemelde gebruikers te blok sodat hulle nie kommentaar op u werke kan lewer of kan reageer op u kommentaar nie.

Blok- en Dempfunksies: 'n Opknappingskursus

Ons sal twee stelle funksies implementeer om gebruikers te help om hul eie ervarings saam te stel en wat sal dien as 'n laag beskerming teen teistering, sonder om dit moeiliker te maak vir mense om inhoud op die Archive of Our Own – AO3 (Argief van Ons Eie) te skep en daarop te reageer:

  • Blokfunksie, wat sekere gebruikers sal verhoed om met u te kommunikeer.
  • Dempfunksie, wat inhoud deur sekere gebruikers uit u persoonlike AO3-ervaring sal uitsluit.

Omdat dit 'n massiewe onderneming sou wees om hierdie konsepte gelyktydig toe te pas op al die AO3 se talle en dikwels gekoppelde funksies, volg ons 'n trapsgewyse benadering wat u sal toelaat om gebruikers in sommige plekke te blok en te demp terwyl ons elders werk.

Blokfunksie Deel 1: Kommentaar

Die Geblokte Gebruikers-bladsy beskryf wat die blokfunksie doen en laat u toe om bykomende gebruikers via 'n klein vorm te blok. Dit lys ook gebruikers wat u geblok het en bied 'n opsie om hulle te ontblok.

Met hierdie eerste vrystelling fokus ons daarop om kommentaar van ingetekende gebruikers te blok. Wanneer u 'n gebruiker blok, sal hulle nie meer kommentaar kan lewer op u werke of kan reageer op kommentaar wat u op nuusplasings of ander skeppers se werke geplaas het nie. Hulle sal ook nie bestaande kommentaar of antwoorde wat hulle vir u gelaat het, kan wysig nie.

Die blok sal voortduur selfs al verander die geblokte gebruiker hul naam.

U kan 'n gebruiker blok deur die "Block" (Blok)-knoppie op hul profiel, paneelbord of kommentaar te kies. Gebruikers wat u voorheen geblok het kan ook van hierdie plekke af ontblok word.

U kan ook 'n gebruiker blok deur hul naam op die nuwe Geblokte Gebruikers-bladsy in te voer, toeganklik deur die "Blocked Users" (Geblokte Gebruikers)-skakel op u voorkeurbladsy te volg.

Die Geblokte Gebruikers-bladsy lys al die gebruikers wat u geblok het. Ander gebruikers sal nie kan sien wie u geblok het nie – die enigste mense met toegang tot u lys van geblokte gebruikers sal u en werfadministrateurs met sekere toegangsvlakke wees.

As u vermoed dat iemand wat u geblok het steeds kommentaar lewer op u werke of reageer op u kommentaar elders op die AO3, kontak die Beleidsmisbruik-komitee.

Neem asseblief kennis dat as u 'n gebruiker blok met wie u 'n medeskepper is, u geblokte medeskepper steeds kommentaar kan lewer op werke wat u saam geskep het. Hulle sal egter nie direk op u kommentaar oor daardie werke kan reageer nie.

Jongste Nuus oor die Dempfunksie

Ons werk aan 'n soortgelyke koppelvlak om aangemelde gebruikers te demp, maar intussen kan u gebruikers, werke, reekse of eksterne werke demp deur 'n voorkomsvel te skep en die volgende CSS te gebruik:

  • .user-000 { display: none !important; } om al 'n gebruiker se werke, reekse en boekmerke van werk- en boekmerklyste en soekresultate te versteek, sowel as enige ingetekende kommentaar wat die gebruiker op werke of nuusplasings gelaat het. Vervang 000 met die ID van die gebruiker wie se werke u wil versteek. 'n Gebruikers-ID is 'n reeks nommers wat op die gebruiker se profiel in die "My gebruiker-ID is"-afdeling gevind kan word. 'n Gebruiker se ID verander nie as die gebruiker hul naam verander nie.
  • .work-000 { display: none !important; } om 'n spesifieke werk van werk- en boekmerklyste en soekresultate weg te steek. Vervang 000 met die ID van die werk wat u wil versteek. Die werk-ID is 'n reeks nommers wat in die werk-URL gevind kan word. Die ID kom onmiddellik na /works/, b.v. https://archiveofourown.org/works/000/chapters/123.
  • .series-000 { display: none !important; } om 'n spesifieke reeks te versteek van boekmerklyste en soekresultate, sowel as gebruikers se reeksbladsye. Vervang 000 met die ID van die reeks wat u wil versteek. Die reeks-ID is 'n reeks nommers wat in die reeks-URL gevind kan word. Die ID kom onmiddellik na /series/, b.v. https://archiveofourown.org/series/000.
  • .external-work-000 { display: none !important; } om 'n spesifieke eksterne werk van boekmerklyste en soekresultate te versteek. Vervang 000 met die ID van die eksterne werk wat u wil versteek. (Let daarop dat daar veelvuldige kopieë van 'n gegewe eksterne werk kan wees, elk met 'n ander ID.) Die eksterne werk-ID is 'n reeks nommers wat in die eksterne werk-URL gevind kan word. Die ID kom onmiddellik na /external_work/, b.v. https://archiveofourown.org/external_work/000.

Om veelvuldige items te versteek, kan u die kiesers met 'n komma skei: .work-000, .work-149319, .user-000 { display: none !important; }

Ander Opsies

Benewens die komende blok- en dempfunksies, is daar 'n verskeidenheid bestaande maniere om u AO3-ervaring te beheer.

Ons Algemene Vrae oor Nie-amptelike Blaaierhulpmiddels bevat 'n lys van 'n paar derdeparty-skrifte waarmee u ongewenste inhoud kan uitfiltreer, en hier is 'n paar ingeboude opsies vir die bestuur van verskeie funksies:

Ons werk altyd aan meer opsies soos hierdie, so maak seker om gereeld in te loer – ons kondig die meeste groot veranderinge hier by AO3 News (AO3 Nuus) aan kort voor hulle vrygestel word. U kan ook @AO3 Status op Twitter of ao3org op Tumblr volg om op hoogte te bly.